Wielie die Wyse Uiltjie

Wielie Cover-01 (002)

Afrikaans

Boek Naam: Wielie die Wyse Uiltjie
Uitgeedatum: Julie 2025
Uitgewershuis: Naledi
IBSN nr: 978-1067234782

Prys: R220

Koop:

 

Inleiding tot die boek

Wielie is ’n gevlekte ooruil wat sy tuiste gevind het op CVO Derby se skoolgronde. Hy is vriendelik en buitengewoon slim. Dit maak dat die leerlinge sy wyshede met groot ywer aanvaar – en só word hy uiteindelik ’n uiltjiekleuter-leerling aan die Akademie CVO Derby-skool.

Wielie en Wimpie word boesemvriende en, net soos die uiltjiekleuter-leerlinge, leer Wielie om vormpies van klei te maak, te klank en te sing. Die hegte vriendskapsband tussen Wielie en Wimpie lei tot verskeie uitsonderlike avonture. Saam ontdek hulle die verskille tussen swem en dryf, rotte en toebroodjies, kleur en kleurblind, sing en “hoo-hooooee”, olik wees en gesond wees, die rotteplaag … en so kan ons aangaan totdat die uiltjiekleuters – dit sluit ’n klas vol uile in – vir Raaf as die bose koningin in Sneeuwitjie en die Sewe dwergies eien. Mensig! En kán so ’n raaf raas!

Kort daarna breek die gradeplegtigheid aan. Dit is ’n spesiale en onvergeetlike oomblik vir almal – almal opgepof in hul eie pette en togas, want uile pof mos hulle vere, en moenie dink die menskleuters spog minder nie! ’n Onderdrukte giggel sweef deur die gehoor toe Raaf opdaag in haar nuwe Grondpad Vellies, met CVO Derby-skool se kenteken duidelik sigbaar: Ek en my huis sal die Here dien.

Nog een tree! is Grondpad Vellies se leuse. Dit laat Wielie besluit om sy toga op te lig – hy wil óók sy nuwe vellies afwys. En so, met opgeblaasde vere, vellies en harte vol avontuurlike herinneringe, sluit die uil-kleuters hul skooljaar op ’n onvergeetlike noot af.

Row concave Shape Decorative svg added to top
Row concave Shape Decorative svg added to bottom

Inspirasie Vir Die Boek

HOE HET WIELIE DIE WYSE UILTJIE ONTSTAAN?

Dit het alles begin toe ‘n ouer – bekwaam, kreatief en wonderlik ter sake – die idee met my gedeel het. Met ’n paar duidelike riglyne en ’n stil oomblik van besinning het die gevlekte ooruil op my lessenaar aangekom … en van daar af het Wielie gevlieg tot hier by CVO Derby-skool. Wat as ’n vonk begin het, het vinnig in ’n simbool verander. Wielie die Wyse Uiltjie het meer as net ’n storie geword. Hy het die hart van ons kleuters se verbeelding geword. En wat Wielie volgende gaan doen – wel, wie kan sê? ’n Jong uil staan ​​immers nooit stil nie … beslis nie wanneer daar ’n lug vol leer is om te verken nie.

 

NOTA VAN DIE OUTEUR

Om Wielie die Wyse Uiltjie te skryf was soos om ’n venster oop te maak na ’n wêreld waar verwondering in elke veer leef en vriendskap in elke gefladder, en ek net moes luister om die storie te hoor. Dit was een van die heerlikste reise wat ek as skrywer onderneem het – nie net as gevolg van die karakters wat tot lewe gekom het nie, maar ook as gevolg van die vreugde wat hulle vir my langs die pad gebring het.

Wielie was nooit net ’n gevlekte ooruil op 'n bladsy nie. Hy was ’n klein metgesel gedurende vroeë oggende, stil nagte en oomblikke van diep besinning. Saam het ons deur ondeundheid gegiggel, ons pad uit moeilike plekke gevind en wysheid op onverwagte oomblikke ontdek. Die storie het met gemak gevloei, en soms het dit gevoel asof Wielie die een was wat die pen gelei het.

Meer as enigiets anders hoop ek dat hierdie boek ’n saadjie van vreugde, nuuskierigheid en sorg in die harte van sy lesers sal plant – net soos Wielie in myne gedoen het.

June Tuis

Wanneer ek aan ’n kinderboek werk, begin die karakters lewe kry – en dan vul hulle my hele huis. Van karaktertjies op my yskas tot in my studeerkamer, oral is hulle teenwoordig. Dis juis daar, in my studeerkamer met ’n asemrowende uitsig oor die plaas – tussen lemoen- en makadamiaboorde – waar ek die meeste skryf. Dis mos die ideale plek om stories te laat ontvou. Ek kon vir Wielie sommer sien vlieg! Groot was my verwondering en blydskap toe ’n witborsarend eendag by my kantoorvenster in ’n boom land en sy eie weerspieëling in die glas bestudeer. Dit is in sulke oomblikke dat ’n mens net weet: jy is op die regte plek, op die regte tyd, besig om ’n perfekte boodskap aan die wêreld bekend te maak.

Professionele June

Ek neem my skryfwerk ernstig op, want dit is ’n gegewe talent – ’n gawe waarvoor ek die Skepper opreg bewonder en dankbaar is. Om ’n verhaal te skryf, verg toewyding en deeglike navorsing. Ons wil immers die jong leser se verbeelding prikkel, nie mislei nie. Wielie, die Wyse Uiltjie is ’n opvoedkundige boek, en daarom was dit vir my belangrik dat kleuters iets daaruit kan leer – natuurlik op ’n speelse en toeganklike manier. Die proses om kinderboeke te skryf, roep die kind in myself na vore – en dit, op sigself, is ’n wonderwerk.

June Droom

Ek droom altyd groot – sommer rêrig groot! En so het Wielie, die Wyse Uiltjie, ook as 'n groot droom in my hart kom land. Toe die idee en inspirasie vir sy storie eers begin nesmaak, het ek geweet: hier kom iets besonders. Wielie het saam met my getoer – van Noordwes, deur Kimberley tot by George – reg langs my op die sitplek! Ons het gesels, gelag en soms net stil gewonder. Dis juis daar, op daardie lang paaie, waar ek die eerste glimp van Wielie se wonderlike wysheid begin sien het. En toe… toe begin die groot skryf-avontuur! Dit was heerlik – vol stories, vreugde, en tonne prettige oomblikke in my kop en hart.

 

Danksegging aan Amanda Espag

Amanda Espag – wat ’n ongelooflike geskenk is jou illustrasies. Elke kwasstreep vertel ’n eie storie, en jou artistieke stem voeg warmte en verwondering by elke bladsy. Dankie dat jy jou unieke briljantheid met ons deel.