Slag van die Golf

SLAG VAN DIE GOLF

Boek Naam: Slag van die Golf
Uitgeedatum: Januarie/Februarie 2023
Uitgewershuis: Naledi Publishers
SKU Nommer: 

Koop:

  • Sal bevestig in Februarie 2023

 

Inleiding tot die boek

“Ek het jou lief…,” stotter sy stomende en kreunende, amper onhoorbare asem onder haar gelaat terwyl haar hartroerende traan gemeng met die spatseltje storm van die see oor sy grys gesig sprei.  Sy druk haar bewende lippe kneusend oor syne - vang sy laaste gebroke asem angstig daarmee op - haar onvoorsienbare liefde hunkerend oor sy stil en sterwende wese – haar traan gemeng met die speekseltjie bloed van sy mond.

Die storm breek onverwags – so asof die Hoër Hand hom bestraf het, en die wind vir hom, kleinkoppie iewers elders ‘n ander lêplek gaan soek het. Was dit alles tervergeefs as Stoffel Barnard se groot wit huis op die verste punt van L’Agulhas deur die storms van die lewe verwoes word – daar waar kwaad nie meer lewe kan gee nie?

Dit is die vraag wat Sonika Groenewald haarself afvra terwyl haar lyf teen die kante van die rotse rondgeslinger word en die vloek van die Groenewalds saam met haar sterf – reg onder die rotse en die kranse van die einste Stoffel Barnard se aansienlike withuis.

Die genade van die dood het alle liefde lamgelê, betreur Tania Jordaan se gees as sy na vergelding roep terwyl die verwoede storm tot bedaring kom en terselfdertyd die spore van die gisters met ‘n smalende tong wegvee.

Slag van die Golf - ‘n verhaal van moord, bedrog, verkragting en wraak; dog ook gevul met die verlange na liefde terwyl die genadeloosheid daarvan homself wreek op die pyn van liefhê - want sien, liefde kies nie die hart nie. Nee, die hart kies die liefde.

Inspirasie Vir Die Boek

Elke boek het ‘n eindstorie net soos wat dit ‘n beginstorie het.  Slag van die Golf se beginstorie het dieselfde emosie en smaak as waarmee dit eindig.  Alles uit wraak en weersin.  Dit beteken nie noodwendig dat moord die hoogtepunt in die boek behoort te wees nie maar wel, volgens my insiens, die liefde.  Dit is tog waarom alles draai.  Al is dit selfs die liefde na mag of aansien.

Verder was dit vir my belangrik om die perfekte karakters te skep wat kan toe tree tot so ‘n wreedaardige daad, aangehits deur omstandighede, omgewing of selfs deur lewensblootstellings soos ervarings, ontnugterings en teleurstellings. Tania en Aluné Jordaan is deur lewensblootstellings voortgedryf terwyl Dimitriou Jenkins en Rikus Grobbelaar aangevuur is deur hul gulsigheid na rykdom. Alles met begrip tot liefde.

June Tuis

Stories laat my diep dink. Wanneer ek ‘n storie skep – of beter verstaanbaar skryf, bring dit my tot stilte, innerlike stilte.  Ek leef die karakters - ek word wakker met die karakters - hulle word my brood en botter. Hulle word selfs vir die tydperk wat ek skryf my tuiste en ek hulle sin – selfs nadat die storie sy einde bereik het, leef hulle nog steeds voort in my skeppings.  Al is dit in ‘n ander verhaal.

Professionele June

Elke boek laat my beter skryf – ek word beter.  Nie net op my skryfwerk nie, maar wel met die ekstra studiewerke wat ek aanpak voordat ek begin skryf.  Bowenal is dit prysenswaardig hoeveel ek daardeur in myself groei.  Dit is inspirerend en dryf my nader aan die Skepsel wat ek IS.

June Droom

Liefde en Moord!  Beter gestel. ‘n Moordroman!  So baie om te vertel, so baie om oor te skryf.  Op ‘n dag op ‘n tyd sal die hemel vir my oopgaan en die diepte van my stories sal harte bereik.  Harte wat dalk genesing soek.  Harte wat dalk net wil wees en harte wat deur my stories vroegtydig die gevaartekens sal raaksien voordat hulle hulself blootstel aan die vernieling wat selfs liefde kan kweek.