Vlug van die Nag

Vlug van die nag

Boek Naam: Vlug van die Nag
Uitgeedatum: Okt 2021
Uitgewershuis: Naledi Uitgewers
SKU Nommer: IBSN nr: 978-1-928530-84-8

Koop:

 

Inleiding tot die boek

Iewers in dié boeiende moordverhaal verloor Jört, hoofspeurder van Moord- en Roof, sy hart op die skynbare – en waarskynlik – eerbare moordenares wat die vermoorde se kind op die nag van die moord ontvoer en haar onder die veiligheid van haar erfporsie verskuil – daar waar die gesiene Jan Barnard, haar pa, tot sy ontsteltenis ontdek dat sy sogenaamde kleinkind die ontvoerde kind van sy dogter is.

Luna, ‘n vryskutjoernalis, vorm deel van die moord-en roofondersoekspan wat haarself te midde van die ondersoek in die kring van ‘n dwelmorganisasie bevind. Dit lei tot ‘n aantal moorde, ontvoering en verkragting terwyl haar plaasmeisiehart eintlik net hunker na die eenvoud van liefhê.

As dit nie is vir speurdersersant Jört se skerpsinnige waarnemingsvermoë, sy breë bors – daar waar die hart nog op die regte plek klop – en sy beskermingsdrang om die vermoorde minnares se ontvoerde kind te vind nie, het die howe so wrintiewaar die onwrikbare Luna galg toe gestuur!

Vlug van die Nag is ‘n boeiende moordroman, met ‘n asembenemende storielyn wat strek van die drang tot oorlewing, tot liefde, en die onselfsugtige begeerte om te beskerm.

Inspirasie Vir Die Boek

‘n Moordverhaal was ‘n blink gedagte, meer soos ‘n lafenis tussen die skryf van eksamens en studie-bloktyd deur.  Die besondere uitdaging, teenoorgesteld van dié  van kinderverhale, bleik toe om ‘n gevoel van selfbevrediging te wek.   Net om verder geïnspireer te kon word deur die veilige gevoel van selfvoldaanheid toe Luna haar slagtande in André Jört se manlike borskas inslaan en hy magteloos meegee aan haar eg vroulike onafhanklikheid.  Die skryf van Vlug van die Nag het alle vlakke van emosies betree -  van die wrang smaak van moord tot die bekorende ontdekking van liefhê.  Daar is tog immers niks kosbaarder as twee wesens een word nie.  Ek het gedurende die skryf van die verhaal ontdek dat ek die raaiselagtigheid en die misterie van die gebeurtenisse geweldig geniet – wat natuurlik die skryf van die volgende moordverhaal moontlik gemaak het.

June Tuis

Om die moordroman te kon skryf het konsentrasie en heelwat aantekeninge geneem. My gedagtes rondom die storie was helderder vroeg in die oggend – wanneer moord mos normaalweg plaasvind - die perfekte tyd om studeerkamer toe te haas, japon en pantoffels in die hand, tot waar ek vrye teuels kon gee aan die wonder van die storie.  As die mis vanuit die rivier ophys en my studeerkamer se groot vensters die oranjeglim van die oggendson deurlaat, kry Vlug van die Nag ‘n nuwe wending, nuwe gebeurtenisse en word die skryf daarvan net meer lonend.

Professionele June

Om myself bloot te kon stel aan ‘n moordroman het nuwe kwaliteite aan die lig gebring.  Ek het ontdek dat ek die skryf van finksieroman, kinderverhale en moordroman ewenveel geniet.  Ek sal beslis voortgaan met moordverhale.  Dit is nie net uitdagend nie maar die storielyn boei my.  Ek hou van die misteriese opklaring daarvan.

June Droom

Terwyl ek skryf ontdek ek verskuilde karaktertrekke van myself.  My droom is om tot die volheid daarvan te kan kom en dit te kan gebruik om die sterk afbeelding van myself in ‘n verhaal te manifisteer.  Ek glo dat die leser hulself daarmee sal kan vereenselwig – en daardeur ook hulle eie karaktereienskappe kan bevorder.  Ons is tog almal op een of ander wyse ‘gegrond’.